News


beskrywing van Dewald Wasserfall
Posted by Andy Dezius at 02:24 on 19.07.2016 um 19:08 (UTC)
  Biografie
Liedjies skryf is in sy bloed. Op die jong ouderdom van 12 het Dewald alreeds sy eerste liedjie geskryf. Ná matriek het hy sy talent na die destydse Pretoria Technikon geneem en sy algemene bekwaamheid verder geslyp deur 'n diploma in vermaaklikheidstegnologie te verwerf.
Dubbeld gekwalifiseer, beide op papier en met louter talent, het hy die volgende vier jaar sy groep Wasserfall gelei, en twee albums, insluitende die treffers "Suikerbos" en "All About Me", vrygestel – onderwyl hy liedjies geskryf het vir sommige van Suid-Afrika se grootste sterre, soos Jay, Karlien van Jaarsveld, Bok van Blerk en Lianie May. "My grootste vyand is ek self," lag hy. "Ek kan nie stilsit nie. Wanneer ek nie slaap nie, hol ek rond en voeg verkieslik nuwe idees en kleure by my progressiewe musieksmaak."

Sedert 2010 bou Dewald aan 'n suksesvolle solo-loopbaan. Hierdie perfeksionis, professioneel tot die murg toe, het twee jaar lank aan sy langverwagte solo-debuut, 2012 se Vergeet Wat Jy Weet Van Liefde, saam met medeskrywers en tydgenote Johan Vorster en Ewald Coleske, gewerk. Beide die titelsnit, "Vergeet Wat Jy Weet Van Liefde" en die tweede single, "Eendag As Ons Groot Is" het die nommer 1 posisie op verskeie radiostasies reg oor die land bereik.
Tussen lewendige optredes is Dewald reeds besig om sy kreatiwiteit te wy aan die rofwerk vir sy volgende hoofstuk in klank, wat in 2014 die lig sal sien. "Ek is deesdae baie gefokus op my eie materiaal," vertel hy. "Soveel so dat ek gesnoei het aan die tyd wat ek deurbring om saam met vriende en medekunstenaars te skryf, en in die laaste tyd eerder daardie energie in my eie werk probeer inploeg." En om ’n bietjie selfsugtig te wees blyk om hom in die proses meer vrygewig te maak - sy waarderende aanhangers vind immers baat daarby.
Vergeet Wat Jy Weet Van Liefde is liries gelaai en melodies ryk, en trek steeds nuwe aanhangers aan elke keer wanneer Dewald die lang pad met sy musiek aandurf. 'n Bonus vir ou bewonderaars is die insluiting van die lewendige gunsteling, "My Hart Se Hongersnood", op die album. Karlien van Jaarsveld het ook haar stem tot die onmisbare applouswekkende snit gevoeg, wat dit tot ’n hele nuwe vlak van genot neem.
Die jaar 2013 is ook besig om vir Dewald baie goed uit te draai. "Ek’s trots Afrikaans," sê hy. Nadat hy by hierdie jaar se KKNK opgetree het voor sy grootste enkele gehoor ooit, is hy deeglik daarvan bewus dat daardie 5 000 mense nie net totaal toegewyd is aan waar hy vandaan kom nie, maar ook selfs nog meer belê in waarheen hy op pad is.
In April 2013 het hy ook die gesogte “Beste Nuweling” toekenning by die Ghoema Afrikaanse Musiektoekennings ingepalm. Hy is ook genomineer vir nie minder as drie Huisgenoot Tempo toekennings - Beste Nuweling, Best Kontemporêre Album en Beste Musiekvideo. Pop, rock, akoesties of melodies - elke beskrywing van Dewald Wasserfall se sterk punte, en hoe en waar hy sy musiek sien inpas, is allermins meer of minder gegrond op een spesifieke genre. "My materiaal is uniek," beklemtoon hy.
Wat Vergeet Wat Jy Weet Van Liefde selfs meer boeiend maak vir nuwe en jarelange getroues, is Dewald se aandag aan detail en sy fokus daarop om slegs die mees uitmuntende vervaardigingswaardes tot sy skeppings te voeg. "Kwaliteit is die sleutel," bevestig hy. "Gehore kan en moet krities en veeleisend wees. As 'n musiekliefhebber weet ek ék is, en dit is iets wat ek waardeer. Ek wil my beste werk lewer, elke keer, in antwoord daarop."

Om terwyl hy toer kennis te maak met die mense wat na 'n Dewald Wasserfall vertoning kom kyk, is een van die baie aspekte wat hy geniet, te midde van 'n leefstyl wat soveel vereis van kreatiewes. "Ja, ek bring baie tyd deur op toer," gee hy toe, "maar al is dit moeilik om ver van die huis te wees vir lang tye op 'n slag, stroom die beloning aand ná aand in. Ek kry soveel bevestiging, elke dag, dat wat ek doen mense aanraak - op 'n vlak wat my inspireer om vol te hou om die beste, mees genotvolle en onvergeetlike musiek moontlik te maak."
Aanhangers ondersteun Dewald, die wenner van vele toekennings en boonop onlangs getroud, steeds as 'n kunstenaar wat applous en bewondering verdien. "Ek weet nie mooi hoe ek doen wat ek doen nie," sluit hy af, "maar ek is ongelooflik dankbaar vir elke aspek van my lewe. Dit gee my die geleentheid om al die gunste wat aan my bewys is, terug te gee elke keer as ek opstaan om op te tree."
 

Bok (GewildesMusikantus)
Posted by Andy Dezius at 02:27 on 19.07.2016 um 19:06 (UTC)
  Bok (GewildesMusikantus)
Kenmerke
Hierdie is die vermaaklikste boksoort en is bekend daarvoor dat hy musiek maak wat die kol tref en by alle Suid-Afrikaners aanklank behoort te vind. Hou ook sy lyf gereeld akteur en spog met meer as 163 000 volgelinge of Facebook, 105 000 op Twitter, CD verkope van by die half miljoen en ‘n lang lys toekennings.
Gebore op 30 Maart 1978 in Pretoria, het hy na skool Boukunde en Konstruksiebestuur gestudeer voordat hy vir sewe jaar lank in die boubedryf gewerk het. Maar die passie om musiek te maak het hom voortdurend daaraan herinner dat hy iets anders wil doen en teen 2005, het Bok bouwerk van ‘n ander aard aangepak deurdat hy as professionele musikant aan sy bewonderaarsbasis begin bou het. Vier albums en ‘n hele rits toekennings later, is Bok een van die land se mees herkenbare stemme en gesigte in die vermaakwêreld, veral nadat hy oor die laaste drie jaar ook gereeld in Suid-Afrikaanse films te siene was.
Bok se musiek spreek van ‘n liefde vir sy land en sy mense met ‘n sweempie humor wat hier en daar bygevoeg word. “De La Rey,” die eerste album met die gelyknamige titelsnit, het mense laat regop sit en notisie neem en multi-platinum verkope is behaal. In 2007 het Bok drie Huisgenoot Tempo Toekennings gewen, asook vyf Vonk Toekennings en die MK Musiekvideo van die Jaar. Tussendeur dit alles, help hy ook met die vervaardiging van die rugby musiekalbum “Ons Vir Jou” wat meer as 90 000 kopieë verkoop soos wat Wêreldbekerkoors die land oorheers. Daar word ook gewerk aan die opvolgalbum, “Afrikanerhart,” wat in 2009 vrygestel word en vinnig dubbel platinum verkope aanteken. In 2010, wen Bok die SAMA vir Bes Verkopende Album vir “Afrikanerhart” en word hy ook aangewys as die top verkopende Suid-Afrikaanse kunstenaar van die jaar.
Na die vrystelling van sy derde album, “My Kreet,” skaars ‘n jaar later, ontvang hy ‘n goue ere-toekenning by die 2011 Vonk Afrikaanse Musiek Toekennings. Dis ook in 2011 wat Bok as die hoofakteur in die film Platteland verskyn teenoor Lianie May en Steve Hofmeyr. Die rolprent word die grootste Afrikaanse film van die jaar en die DVD verkope bereik dubbel platinum status. Die situasie herhaal homself in 2013 toe Bok in die film “As Jy Sing” verskyn en dit die grootste Afrikaanse rolprent van die jaar word. Rondom dieselfde tyd wat die DVD vroeg in 2014 uitgereik is, verskyn Bok weer op die grootskerm in “Vrou Soek Boer.” Bok gaan ook in “Leading Lady,” ‘n internasionale rolprent wat later in 2014 vrygestel word, verskyn. En hoewel als in groot geheimsinnigheid gehul is, is daar ook bevestig dat Bok aan nog ‘n ander rolprent gaan begin skiet in 2014.
Bok se vierde album, “Steek die vure aan,” word tydens Braaidag en Erfenisdagverrigtinge in 2013 bekendgestel aan ‘n handjievol media, mede-kunstenaars en lojale bewonderaars wat vinnig genoeg kaartjies kon bekom. Verkoopsukses is hoofsaaklik te danke aan die gewildheid van die eerste treffer, “Land van melk en heuning,” ‘n tipiese Bok testament van kragtige lirieke, ‘n dieper betekenis en iets wat trots aanwakker. Die CD was die top verkopende album in die land vir ses weke en “Land van melk en heuning” het die nommer 1 posisie op verskeie radiostasies se treffersparades gehaal. Die tweede treffer is die titelsnit self en het reeds die nommer 1 posisie behaal op verskeie stasies, insluitende beide Jacaranda FM se treffersparades, die Afrikaanse Top 20 en die Kia Top 20.
Bok is mal daaroor om te toer en optredes te hou. Twee persoonlike hoogtepunte vir hom was die eerste Afrikaans Is Groot konsert in 2012 voor ‘n skare van 28 000 mense in Pretoria en die daaropvolgende jaar se Afrikaans Is Groot konserte in Pretoria en Kaapstad voor 70 000 mense. Die DVDs van die konserte het ook onderskeidelik dubbel platinum en platinum status bereik met laasgenoemde wat steeds van die winkelrakke afvlieg. Bok is ook ‘n direksielid van die Afrikaans Is Groot Bestuurskomitee en ‘n aktiewe lid van die Hanna Liefdadigheid- en Bemagtigingsorganisasie. Hy het ook reeds twee keer deelgeneem aan die Bikers for Mandela Day inisiatief.
Bok glo vas daaraan dat bewonderaars nie altyd besef hoe baie hul lojaliteit en erkenning vir kunstenaars beteken nie. Juis daarom maak hy ‘n punt daarvan om met hulle te kommunikeer en op die hoogte te hou van waarmee hy besig is, hetsy by konserte of deur sosiale media. Daarvan getuig die meer as 120 000 volgelinge op Facebook en die meer as 68 000 Twitter volgelinge. Naas die bewonderaars, is Bok ook baie trots op sy assosiasie met borge soos Blaser, Sensation Boats, Samsung, Guvon Hotels, Titleist, The Dental Spa en Kingsley Heath en maak hy seker dat hulle gelukkig is met hul verhouding met hom.
Bok is ook mal daaroor om saam met ander kunstenaars te werk en het reeds liedjies opgeneem saam met Steve Hofmeyr, Valiant Swart, Robbie Wessels en Die Heuwels Fantasties. Hy is ‘n gewilde persoonlikheid in die Suid-Afrikaanse media en verskyn gereeld in koerante, tydskrifte en aanlyn, asook op radio en TV. Op TV het Bok ook al as aanbieder verskyn op programme soos die eerste seisoen van Toks & Tjops, gasaanbieder van Jukebox en Bok vir Sports waarvan die nuwe seisoen in 2014 vervaardig sal word en vroeg in 2015 uitgesaai sal word. Bok het selfs sy stem dik gemaak op die radiogolwe en in Maart 2014 vir drie dae lank as Anna Visser se mede-aanbieder op OFM se Breakfast Special verskyn. Bok se belangstellings en stokperdjies sluit in, die buitelewe, diepseehengel, jag, gholf, die bosveld en braai.
“Dis in my bloed. Ek geniet musiek maak. Geniet is miskien nie ‘n sterk genoeg woord nie. Ek is mal daaroor. Mal daaroor om te sien hoe mense aanklank vind by my lirieke, hoe hulle saamsing… mal daaroor om te hoor by my bewonderaars hoe ‘n liedjie hulle lewe geraak het of net hul gemoedstoestand gelig het. Ek voel geseënd om te kan sê ek geniet wat ek doen.”
As jy op die hoogte wil bly van Bok van Blerk se planne en optredes, sluit gerus aan by hom op sosiale media: Twitter: @BokvanBlerkReal Facebook: Bok van Blerk
 

<-Back

 1 

Continue->

Diese Webseite wurde kostenlos mit Homepage-Baukasten.de erstellt. Willst du auch eine eigene Webseite?
Gratis anmelden